Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Danielle de Villiers

Om skool toe te gaan, is ’n geleentheid om vir 12 jaar lank vaardighede aan te leer en kennis en ondervinding op te doen. Gestel jy het nie ’n keuse van verdere studie om in ’n spesifieke vakrigting te spesialiseer nie. Hoe toegerus is ’n 18-jarige skoolverlater regtig?

Deesdae het ons so ’n groot verskeidenheid vakkeuses wat gemaak kan word volgens ons belangstellings. Ongelukkig is dit meestal beperk tot sewe (hoogstens nege) vakke en so ook slegs sewe fasette van jou menswees waarop die skool fokus. Baie het stokperdjies buite hierdie sewe vakke, wat ons gelukkig verder ontwikkel, maar binne die skool is daar beperkte fokus-areas.

Wie van ons (wat byvoorbeeld nie ontwerp neem nie), kan ’n knoop aanwerk, ken verskillende steke en kan self klere maak? Wie weet presies hoe ’n besproeiingstelsel of die skoonmaak-metodes vir verskillende materiaalsoorte en die fynere kunsies van voedselvoorbereiding werk? Natuurlik val dit nie in almal se belangstellingsveld nie, maar daar is tog belangrike vaardighede wat eenvoudig nie meer op skool aangeleer word nie.

Sal ’n kind wat nie Ekonomie, Besigheidstudies of Rekeningkunde neem nie, presies weet hoe om ’n huishoudelike begroting op te stel, bankrekeninge oop te maak, beleggingskeuses te maak of hoe belasting werk? Weet ons op 18 hoe om polisse uit te neem, motor- en lewensversekering te ondersoek en ons eie mediese fonds of pensioenrekeninge te hanteer? Hoeveel van ons weet wat presies ’n polis is?

Hierdie alledaagse, belangrike fasette van die grootmenswêreld word selde in die sillabus aangeraak.

Alhoewel baie kinders eers studeer en op ’n gemiddelde ouderdom van ongeveer 25 jaar besluit om ’n gesin te begin, sukkel baie jong ouers met huishoudelike uitdagings. Ouers is soms ook te besig met inkomste genereer en verhoed dat baie belangrike gesprekke kan plaasvind en kennis oorgedra kan word oor hoe om na ’n gesin om te sien.

Skole het deesdae voorligtingsielkundiges, maar vroeër was daar voorligtingperiodes. Tydens elke periode is ’n ander veld met talle beroepe in beskryf en is ’n voorlegging gemaak en navorsing gedoen oor verskillende velde. So het leerders nuwe kennis opgedoen oor beroepe sonder dat ouers geld hoef te spandeer vir onafhanklike voorligters om jou bewus te maak van al die verskillende beroepe.

’n Student wat ek ken wat nou argitektuur studeer, het gesê hy het baie meer in sy een jaar van internskap geleer as in sy drie jaar van keusevakke. Dit bevestig dat praktiese werk en ondervinding deur internskappe en kursusse ongelukkig eers na skool plaasvind.

Skool is uiters belangrik, dit is ’n bron van kennis, leer jou baie lewenslesse en sal altyd van die beste herinneringe in jou lewe bring; die waarde van skoolgaan moet dus nooit onderskat word nie. Ongelukkig het sekere fasette net oor die jare verlore gegaan of uitgesterf.

Onthou net, ’n mens is nooit te oud of te jonk om te leer nie.

Meningskolom:

Op die vraag: “Berei en rus die skool jou genoeg toe vir die volwasse lewe?” op Instagram, het verskeie leerders van verskeie skole soos volg reageer:

“In Lewensoriëntering leer ons dikwels hoe om tienerswangerskappe te voorkom. Ons word egter nooit geleer hoe om eendag as ons reg is vir kinders, vir hulle te sorg en na hulle om te sien nie.”

“Ek dink skool leer ons om net binne die boksie te dink en moet opdragte uitvoer volgens spesifikasies. Ons word almal gemeet op dieselfde manier en daar word partykeer vergeet ons is almal anders met ander talente.”

“Skool leer jou om vir iemand anders te werk en nie noodwendig vir jouself nie. Ons verwag ons gaan net eendag in ’n werk kan instap, maar dit is nie deesdae die geval meer nie.”

“Skoolwerk en toetse en take sit baie stres op die jeug en dit is nie goed vir ons emosionele welstand nie.”

“Lewensoriëntering fokus gans te min op gesondheid, of dit persoonlik, seksueel of geestelik is. Ek voel skool doen nie genoeg om ons veiligheid te verseker wanneer ons onafhanklik word nie.”

“Ons leer te min finansiële geletterdheid. Ons moet geleer word om suksesvol passiewe inkomste te genereer. Nie net die feit dat dit belangrik is nie, maar ook presies hoe en om al ons opsies te leer ken, sodat ons nie eendag finansieel uitgebuit kan word nie. Leerders wat nie besigheidsgerigte vakke neem nie, moet dit ook iewers kan leer.”

“Mens leer net konstant vir toetse en leer nooit hoe om regte volwasse kwessies te hanteer nie, soos wat om te doen as jy en jou kollega eendag vassit oor ’n saak, hoe los mens die probleem vreedsaam op?”

Lees Verder

Is ’n walvis ’n vis?

Hellmuth Weich

Hoe begin jy skryf?

Leanri Pretorius

Watter invloed het die sosio-politiese klimaat op die kuns en teater?

Cara Reyneke

Wat wil jy eendag word?

Leandri Odendal