Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Danielle de Villiers

Die antwoord op dié vraag hang af van wie jy vra. Indien die aangesprokene ’n totale onkundige op die gebied van biologie is, sal die persoon waarskynlik “ja” sê.

Die meeste mense sal natuurlik antwoord: “Nee, hulle is soogdiere.” Die wysneuse (waaronder dié joernalis val) mag dalk selfs noem dat walvisse nie net soogdiere is nie, maar dat een van hul enigste lewende verwante die seekoei is.

Maar vra jy nou ’n igtiologiese veteraan en hulle mag dalk peinsend in die verte in tuur en filosofies vra: “Wat is ’n vis?”

Die waarheid is dat daar niks soos ’n vis is nie. Die woord “vis” as term om te verwys na die meeste van die oseaan se gewerwelde, koudbloedige boorlinge is nuttig, tog taksonomies verwarrend.

Stephen J. Gould was ’n Amerikaanse paleontoloog en evolusionêre bioloog en een van die gewildste biologiese skrywers van sy tyd.

Aan hom te danke is die teorie van gepunte ewewig wat voorstel dat evolusie in kort uitbarstings van verskeie verskillende spesies gebeur in plaas van Darwin se teorie van ’n gletseragtige proses wat oor duisende jare plaasvind. Matrieks wat biologie neem, behoort goed met hierdie term vertroud te wees.

Na dekades van visse en veral hul evolusie, bestudeer, het Gould tot die besef gekom dat visse eintlik nie bestaan nie.

Nou, voordat enige lesers briewe aan die Herout skryf om ons uit te nooi na ’n besoek Ocean Basket toe, stel ek die volgende vraag:

Wat maak ’n voël ’n voël? Die feit dat hulle kan vlieg?

Natuurlik nie, anders was bye en vlermuise voëls, maar pikkewyne en volstruise nie. In die moderne wetenskaplike wêreld, word dié vraag beantwoord op grond van ’n dier se evolusionêre geskiedenis en klades.

Klade is afkomstig van die Griekse woord vir tak. Stel jou voor jy aanskou die groot boom van evolusie. Om ’n klade te skep, kies enige vertakking op die boom en maak ’n “snit” daar. Alle spesies wat na daardie snit val, behoort aan dieselfde klade.

’n Kleiner klade kan geskep word deur ’n “snit” te maak by die punt aangemerk as 10 miljoen jaar. Dié kleiner klade sou dan mense, sjimpansees en bonobo’s insluit en help ons om te sien wie ons naaste verwante is.

Maar so behulpsaam soos dié tegniek is, werk dit bloot net nie vir visse nie. Hulle is eenvoudig te oud (haaie alleen is ouer as die eerste bome!). As jy ’n snit maak by die vertakking wat alle visse sou insluit, sou jy ook tetrapodes (die groep waaraan reptiele en soogdiere behoort), wat nie visse is nie, moes insluit, omdat die laaste gemeenskaplike ouer wat alle visse deel ook met tetrapodes gedeel word.

Dit is vir dié rede dat “vis” eintlik maar net ’n versameling van ’n klomp verskillende klasse is wat min of meer dieselfde voel oor terrestriële lewe en wat kiewe besit, eerder as ’n ware klade.

Kraakbeenvisse (soos haaie) het vroeër van beenvisse geskei soos wat visse van tetrapodes geskei het. Dit beteken dat ’n goudvissie, geneties gesproke, meer gemeen met ’n kameel as ’n haai het. Hoe kan jy dan dié twee in dieselfde groep probeer plaas?

Om terug te kom by my oorspronklike vraag - is walvisse visse? - is die antwoord dat as hulle wil wees, kan hulle maar?

Lees Verder

Reduce, Reuse, Recycle – is dit regtig verbruikers se verantwoordelikheid om die wêreld te red?

Emma Craucamp

Watter invloed het die sosio-politiese klimaat op die kuns en teater?

Cara Reyneke

Indien die mensdom die geleentheid gehad het om die finansiële stelsel te herontwerp, sou ons dit beter kon doen?

Danielle Swanepoel

Sal Mars ooit ons tweede tuiste kan wees?

Erica Chen