Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Emma Olivier

Ons weet dat die sosio-politiese klimaat van ’n land ’n baie groot invloed het op die lewens van burgers. Ons bevind, byvoorbeeld, dat minder ontwikkelde lande dikwels met kwessies soos armoede en werkloosheid sukkel wat op sy beurt weer lei tot kwessies soos diefstal en haweloosheid. Watter effek het die sosio-politiese klimaat egter op die kuns- en teaterwêreld?

Die twintigste eeu is bekend vir sy politiese onrus. Twee gebeurtenisse in dié tyd wat feitlik elke individu se wêreld omgekeer het, was natuurlik die twee wêreldoorloë. Ek is seker ek hoef nie nou meer daarop uit te brei nie, maar as jy meer wil weet, is juffrou Meyer in kamer 17 met baie PowerPoints oor dié onderwerp.

As gevolg van die twee wêreldoorloë en hul astronomiese impak op elke individu, is die kuns- en teaterwêreld ook op sy kop gedraai. Voor die Eerste Wêreldoorlog, is die kunste slegs gesien as ’n vorm van ligte vermaak. Die kuns- en teatervorm Realisme, of Naturalisme, was in dié tyd veral gewild. In Realisme-teater sou gehore na die verhoog kyk, reguit in iemand anders se lewe. Realisme-karakters is volronde, drie-dimensionele karakters, met sielkundige motiverings en verskuilde agendas. As jy sou kyk na ’n Realisme-stel, sou karakters byvoorbeeld regtig ’n lampie kon aanskakel, of ’n laai kon oopmaak. In kuns beteken Realisme dat die kunswerk voor jou so realisties is soos ’n foto geneem met ’n moderne kamera.

Na die wêreldoorloë het hierdie kunsvorms egter hul aansien verloor. As ons uit ’n sielkundige perspektief hieroor dink, maak dit sin. Mense se lewens het heeltemal verander – jong soldate, wat oorlog toe gegaan het as naïewe, patriotiese seuns, het teruggekom as oorlewendes met bloed op hulle hande. Hulle moes die dood van hul broers, pa’s en beste vriende van hulle kinderjare op die slagveld, verwerk. Ontstellende tonele van seuntjies en dogtertjies wat nie besef het dat die man in die rolstoel voor die tuinhekkie hul pa is nie, het die nuwe realiteit geword. Realisme as ’n kuns- en teatervorm was nie meer voldoende nie, want dit was, wel, nie meer realisties nie. Nie almal het die gelukkige einde gehad soos wat Realisme-teater voorgestel het nie. Die realiteit van die tyd voor die oorlog het soos ’n feëverhaal voorgekom in vergelyking met die wrede realiteit van die wêreld na die oorlog.

Talle anti-realistiese kunsbewegings het onstaan na afloop van die Eerste Wêreldoorlog. Hierdie kunsbewegings het eerder gefokus op die mens se ervaring van die werklikheid en die verkenning van die mens se onderbewussyn. Ekspressionisme, byvoorbeeld, het die idee dat daar ’n absolute, objektiewe waarheid is, bevraagteken. Ekspressioniste het geglo dat die enigste waarheid binne-in ’n individu is en dat dit is wat jy self ervaar. Ekspressionisme is eerste gesien in skilderwerk voordat dit gewild geraak het in die teater. Ekspressionisme in die teater is dikwels donker en hartseer en het nie ’n gelukkige einde nie. Die werke is gefokus op die uitbeelding van die kunstenaar se ervaring van die werklikheid en alle aspekte van die teater (beligting, stel, dekor, ens.) is hiervolgens bepaal.

Nog een van hierdie anti-realistiese kunsbewegings, Dadaïsme, het die filosofie gevolg dat as rasionele denke gelei het tot die wêreldoorlog, dan moet rasionele denke heeltemal verwerp word. Dadaïsme het probeer om chaos in kuns te skep en dit ook te ondersoek. Dis belangrik om te weet dat Dadaïsme geen universele vorm gehad het nie, waarskynlik omdat aanhangers daarvan kuns as ’n geheel verwerp het en net gegaan het met die idee dat enigiets “kuns” is, solank jy so sê, want wie is jy om vir my te sê wat is kuns en wat is nie? My persoonlike gunsteling-uitdrukking van Dadaïsme is toe Marcel Duchamp ’n ou urinal (ja, soos wat jy kry in die seunsbadkamer) ingeskryf het vir ’n kunskompetisie, bloot op grond van die filosofie van Dadaïsme, dat kuns is wat die kunstenaar sê dit is. Heel gek, as jy my vra.

Die sosio-politiese klimaat van die wêreld het die kuns- en teaterwêreld heeltemal verander. Kuns en teater word nie meer gesien as slegs ligte vermaak nie, maar word in baie gevalle gebruik om vrae te vra. Teater het na kunsbewegings soos Ekspressionisme en Dadaïsme ook ’n protesmedium geword. ’n Bekende protesteater toneelstuk is Woza Albert!, wat betoog teen apartheid, maar dit is nie die enigste van sy soort nie. Kuns en teater in die post-post-moderne eeu is dikwels hoogs polities van aard en word deur dramaturge en ander kunstenaars as ’n politiese wapen gebruik. Soos die wêreld om ons verander, verander die kunste om dit wat ons in daardie tydvak voel, uit te druk.

Lees Verder

Sal Mars ooit ons tweede tuiste kan wees?

Erica Chen

Self-help: hoe kan jy emosioneel volwasse raak?

Kaylin Grobler

Hoekom het ons somer- en wintersporte?

Erica Chen

Nuuskierig?

Renke Lorio & Emma Olivier