Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Aimee Hough

Wat wil jy eendag word? Dit was die vraag en onderwerp van my eerste mondeling in Graad 1. Toe het ons dit maklik beantwoord: brandweerman, ballerina, prinses of ’n ruimtevaarder en vir ekstra punte het jou ma ’n kostuum oor jou kop getrek en het jy gewens jy kon regtig maan toe vlieg, want ’n leë visbak op jou kop is nie jou idee van ’n kreatiewe ruimtevaarderhelm nie.

Draai die horlosie ’n paar jaar aan en dieselfde vraag word weer gevra omdat jy die regte vakke moet kies vir die res van jou lewe (of so voel dit!).

Die nuwe dekade het ’n nuwe vraag gebring: watter loopbane is volhoubaar vir die toekoms? Watter loopbane sal nie deur ’n robot met kunsmatige intelligensie oorgeneem kan word nie?

Navorsing toon dat mense wat handearbeid in fabrieke verrig teen 2030 heeltemal deur masjiene vervang sal word. Maatskappye verkies masjiene bo mense omdat dit goedkoper en vinniger is. Masjiene vra ook nie vir salarisverhogings of vakansiedae nie en werk graag oor naweke.

‘n Robot met kunsmatige intelligensie is geprogrammeer om deur voorbeelde, vorige data en probleemoplossing te kan voorspel wat die volgende stap in die proses is. Hulle word geprogrammeer om soos ’n mens in stappe te kan dink. Hoe meer prosesse en take hulle afhandel, hoe slimmer word hulle. (Is dit gebaseer op onderwysers se idee met huiswerk?)

Daar is reeds ’n hotel in Kaapstad met personeel wat slegs uit robotte bestaan. Hotel Sky is in die hartjie van Kaapstad en die eerste hotel van sy soort in die wêreld. Die klavier in die restaurant speel selfs op sy eie, sonder ’n pianis!

Jou toekomstige loopbaan is veilig indien dit in die kreatiewe veld lê, of as redeneer vir jou ’n werkwoord is.

Mense gaan nog benodig word om musiek en flieks te vervaardig. Robotte het ook nie die vermoëns om as regters op te tree nie; hulle kan nie debatteer en regsbeginsels toepas nie.

Onderwysers sal ook nie vinnig vervang word nie. Wys my ’n tiener wat vir Siri ernstig opneem? Aanlynskool was ook net vir ’n week opwindend.

Daar sal altyd vooruitgang en nuwe uitvindings wees, maar menslike emosie en die siel bly die geheime kode wat nie ontsyfer kan word nie.

As jy die antwoord het vir die vraag, wat voed jou siel, sal jy sekerlik ’n loopbaan kies wat volhoubaar vir die toekoms is, want rekenaars het mos nie siele nie!

Lees Verder

Is dit die moeite werd om dagboek te hou? My ervaring as eienaar van die cliché tiener-besitting

Emma Olivier

Wat is die waarheid agter die mRNA-entstof?

Leah Coetzee

Self-help: hoe kan jy emosioneel volwasse raak?

Kaylin Grobler

Wat is die beste velsorgroetine vir ’n tiener?

Dehan Lotz