Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Emma Olivier

“Well, it’s no use you’re talking about waking him,” said Tweedledum, “when you’re only one of the things in his dream. You know very well you’re not real.”

Só sê Tweedledum vir Alice in Lewis Carrol se Through the Looking Glass.

Ons reis in die nag ook na die ander kant van die Looking Glass, waar ons surrealistiese scenario’s en vreemde beelde teëkom.

Wanneer jy slaap, skei die medulla, middelbrein en pons (dele in hipotalamus) die aminosuur, gamma-aminosmjörsuur en adenosien af om die liggaam te laat ontspan. Kortisolvlakke daal en gedurende REM-fases “verlam” neurone die liggaam tydelik, sodat jy nie in jou slaap opstaan nie. (Mense wat in hul slaap rondloop, ervaar dalk ’n probleem met die dele van die brein wat die liggaam gedurende slaap laat stillê.) Die thalamus raak minder aktief in NREM (non-rapid eye movement), maar dan weer helder aktief in REM sodat jy sensasies in jou drome kan voel. (REM staan vir Rapid Eye Movement en is die slaapfase wat ongeveer elke 90 minute nadat jy aan die slaap raak, plaasvind. Hier is jou drome meer intens en jy onthou ook drome beter as jy gedurende REM wakker word.)

Die prefrontale korteks, wat vir rasionele denke verantwoordelik is, raak stil en die dele van die brein wat emosionele reaksies laat plaasvind, is aktief. Hierdie vervanging van logika met emosie laat drome gereeld spesiaal en roerend voel, terwyl ons droom, maar is ook waarom ons soms wakker word en skielik besef dat die droom glad nie sin gemaak het nie.

Lewis Carrol, skrywer van Alice’s Adventures in Wonderland, het baie geweet van die psige en die brein se werkinge. ’n Mens kan filosofiese konsepte, sielkindige beginsels (onder andere Freud se beginsel van die driedelige rol van die psige), sowel as idees oor die werkinge van die brein in Alice raaksien. Een van hierdie interessante konsepte waarna Carrol verwys, is die idee dat nonsens sin kan maak as dit grammaties korrek lyk. Die gedig, Jabberwocky in Alice is ’n “nonsens-gedig”, omdat dit soveel opgemaakte woorde sonder werklike betekenis bevat. Ons verstaan egter steeds die gedig, omdat die woorde in ’n volgorde is wat grammaties sin maak. Dit gebeur net so wanneer ons slaap dat ons goed sien of hoor of selfs lees wat in drome heeltemal sin maak, maar wat in die wakker wêreld deur ons logika bevraagteken word.

Ek is natuurlik nie ’n kenner op die gebied van drome nie, maar ek verkies om só daaroor te dink:

Die brein is soos ’n groot liasseerkabinet vol inligting. Jy vergeet selde iets absoluut. Jou brein stoor dit wat jy nie hoef te onthou nie, in die onderbewussyn, of in ’n “versteekte lêer” onder in die liasseerkabinet. Wanneer jy slaap, het jy kans om lêers rond te skuif, oop te maak en dokumente van een lêer in ’n ander te plaas. Dan word daar ook na die versteekte lêers gekyk en nuwe dokumente word ingesit, opgeknip, oorgeplak en geliasseer om die kabinet netjies te hou. Slaap is dus baie belangrik vir die handhaaf van sielkundige, maar ook fisiese gesondheid.

Jy het slaap nodig om jou liggaam te herlaai, proteïene op te bou, weefsel te herstel en belangrike hormone vry te stel. Ons slaap ook om ons verstand en gedagtes te orden. Teorieë stel voor dat ons droom om gebeure van die dag te verwerk en geheue te versterk deur “onnodige” inligting van “belangrike” inligting te skei.

Ons onderskat hoe belangrik dit is vir die brein om te rus – alhoewel die brein nooit heeltemal afskakel nie.

Die rekord vir die langste wakkerbly is blykbaar 11 dae, maar ’n mens begin na ongeveer drie opeenvolgende dae sonder slaap hallusineer.

Moenie jouself van slaap weerhou om te hallusineer nie, asseblief! (Dit is geen grap nie. Slaaptekort is al selfs as martelingstegniek gebruik.)

Om vir dae te gaan sonder om te slaap, kan dit moeilik maak om selfs eenvoudige takies te verrig, beroof jou van jou konsentrasievermoë en jou sinne.

Na twee dae sonder slaap, sal die liggaam “mikroslapies” neem. Jy sal dan vir ’n paar sekondes aan die slaap raak en dan weer wakker skrik. Jou liggaam sal ook sukkel om teen siektes te veg en jy sal makliker inflammasie kry. Slaaptekort kan ook jou hormone beïnvloed en daartoe lei dat jy nie jou emosies kan beheer nie.

In 1959 het die New York radio-omroeper Peter Tripp, op ’n vreesaanjaende trip gegaan toe hy ’n wakkerbly-maraton vir liefdadigheid gedoen het. Hy het vir ongeveer 200 ure wakker gebly (maar moes egter in die laaste 66 ure middele neem om hom wakker te hou). Wetenskaplikes het hom gedurende hierdie 200 uur dopgehou. Terwyl hy sy radioprogram aangebied het, het hy geblyk heel normaal te wees, maar hy het na omtrent 5 dae begin om dinge te sien wat nie werklik daar was nie. Hy het gesê daar is spinnekoppe in sy skoene en spinnerakke op mense om hom se gesigte. Hy het gesoek vir dinge wat nie daar was nie. Hy kon nie meer die alfabet onthou nie. In die laaste paar ure van die wakkerbly-maraton, het Tripp begin glo dat hy nie regtig Peter Tripp is nie en het gedink hy was iemand anders.

Die wetenskaplikes het op die laaste aand sy breingolwe gemonitor en gesien dat, alhoewel hy wawyd wakker gelyk het en gepraat en take verrig het, sy breingolwe soos dié van ’n persoon in die REM-fase gelyk het. Sy breinpatrone het aangedui dat hy letterlik wakker geslaap het.

Is drome egter net deurmekaar verwerkings van gebeure, of het hulle dieper betekenisse?

Sigmund Freud het geglo dat drome beelde bevat wat dinge in ons werklike gedagtes, begeertes en ervarings simboliseer en dat ons hierdie simbole kan interpreteer. Hy het in sy boek The Interpretation of Dreams gesê dat die interpretasie van drome die “pad na kennis van die onbewuste aktiwiteite van die gees” is. Drome kan ons dus ’n kykie in die psige gee.

Drome kan ons ook help om probleme op te los. Die wetenskaplike Frederich Kekulé het die chemiese struktuur van benseen ontdek toe hy gedroom het oor ’n slang wat sy eie stert byt. Die slang se vorm het hom laat besef dat die benseen-struktuur ook ’n sirkelagtige vorm het.

Die digter Samuel Taylor Coleridge se beroemde gedig, Kubla Kahn, het in 1797 in ’n droom aan hom verskyn. Hy het wakker geword met 200 tot 300 versreëls om neer te skryf. Hy het 54 reëls geskryf voordat iemand hom in die rede geval het, maar toe hy na die gedig teruggekeer het, is die res van die inspirerende droom vergete. As hy maar net die res ook kon onthou!

Ek ken ’n hele klomp mense wat wens dat hulle hul eie drome beter kan onthou. Jy droom elke aand, maar onthou dit net nie altyd nie. Jy kan jou drome beter onthou deur op min of meer dieselfde tyd elke aand te gaan slaap en genoeg slaap te kry. Wanneer jy wakker word, sal jy jou drome makliker kan onthou deur rustig wakker te word en jou droom te probeer herroep. Jy kan dit maklik vergeet as jy net direk opspring en met die dag begin sodra jy jou oë oopgaan. Om drome neer te skryf, help ook om jou drome meer gereeld te onthou.

Ek het hierdie artikel in die doodsnikke van die nag klaargeskryf. Ek het nogal skuldig gevoel dat ek oor die belangrikheid van slaap skryf en dan self so laat opbly. Dit is ook redelik moeilik om wakker te bly as ’n mens so laat sit en skryf oor al die heerlike voordele van ’n goeie nag se rus. Hier is ’n paar wenke vir ’n bevredigende reis deur die Looking Glass:

Moenie direk voordat jy in die bed klim, op jou selfoon kyk nie. Probeer om teen ’n redelike tyd te gaan slaap en hou daarby. Slaap in die donker. Jou brein produseer melatonien, die “slaaphormoon”, beter in die donker. Maak ook seker jou slaapkamer is nie te warm nie (die optimale temperatuur vir slaap is ongeveer 18 grade Celsius). Vra om professionele hulp as jy agterkom dat slaaploosheid vir jou ’n probleem is.

Die wêreld van slaap en drome hou nooit op om my te fassineer nie. Navorsing en wetenskap het ook nog net begin om al die wonders van die slapende brein te leer ken. Dit was heerlik om hierdie artikel te skryf, maar ek dink ek gaan nou uiteindelik my eie raad volg en inkruip.

Lees Verder

Is ’n walvis ’n vis?

Hellmuth Weich

Prysing: aanmoediging of kruk?

Juliette Behr

Wat is die waarheid agter die mRNA-entstof?

Leah Coetzee

Wat is die beste velsorgroetine vir ’n tiener?

Dehan Lotz