Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Emma Snyman

Aknee annekseer die eens beeldskone vel. Adolessensie tree in en jou tienerjare word ’n ewige gekoes vir die onverwagte kamera.

Puisies kom voor wanneer die vetkliere en haarsakkies op die gesig ontsteek raak, veral gedurende puberteit. Hierdie is ’n verskynsel wat jy gewoonlik in jou rypste tienerjare sal teëkom. Dit is nie iets wat jy sommer kan vermy nie, maar die korrekte velsorgroetine kan effektiewe weerstand daarteen bied.

Dit is eerstens belangrik om te weet wat jou veltipe is. Almal se vel reageer anders op sekere produkte. Indien jou huidige velsorgmiddels “nie werk nie”, is dit bloot nie vir jou nie! Daar is nie net een manier om goeie velsorg toe te pas nie. Sommige mense het ’n droë vel terwyl ander s’n olierig is. Kies dus jou produkte daarvolgens. Dermatoloë sal vir jou ’n goeie insig oor jou persoonlike veltipe kan te gee. Indien jy egter nie toegang tot ’n dermatoloog het nie, kan die volgende webtuiste jou help om jou veltipe te bepaal: https://www.skincare.com/article/quiz-what-is-your-skin-type.

Genetika speel ook ’n belangrike rol wanneer dit kom by hoe jou vel homself gedra. Party gene soos epidermolysis bullosa (broosheid van die vel) kan jou ’n moeilike tyd in verband met velsorg gee. Gene kan jou meer geneig maak om aknee op te doen of, as jy gelukkig is, die kanse dat jy dit ontwikkel skraal maak.

Daar is egter ’n paar stappe wat almal se velsorgroetine behoort te bevat –was, skrop (soms en nie te hard nie) en bevogtig. Was jou gesig ten minste elke aand voor jy gaan slaap. Dit sal enige olie en vuilis wat op jou vel opbou, verwyder. Party mense se vel benodig dat hulle dit slegs een keer per dag in die aand met seep was en dan in die oggend net afspoel, terwyl ander ook hulle gesig in die oggend moet was. Dit hang van jou veltipe af en jy kan self eksperimenteer en kyk wat die beste vir jou werk. Dit is ook belangrik om ’n vogroom te gebruik om belangrike olies en voedingstowwe terug in jou vel te plaas. ’n Skrop een tot twee keer ’n week sal help om dooie vel af te skil en jou hernude, gesonde vel te openbaar. Wanneer jy jou gesig was of skrop, wees egter versigtig om nie te woes tekere te gaan nie. Gebruik die punte van jou vingers om liggies jou gesig te marsjeer.

’n Algemene mite wanneer dit by velsorg kom, is dat dit sterk verband hou met jou dieet. Jou voedselinname, volgens wetenskap, spoor nie jou aknee aan nie. Die enigste voedselsoort wat aknee kan laat voorkom, is deur dermatoloë identifiseer as melk. ’n Lae-glukemiese dieet kan egter help om skielike stygings in jou bloedsuiker onder beheer te hou, wat jou vel kan bevoordeel.

Onthou net dat aknee natuurlik is en iets is waarmee elke tiener sukkel. Dit is heeltemal verstaanbaar om daarvan ontslae te wil raak, maar terwyl jy wag vir jou behandelinge om te werk, moenie toelaat dat dit jou terughou nie.

Lees Verder

Wat wil jy eendag word?

Leandri Odendal

Indien die mensdom die geleentheid gehad het om die finansiële stelsel te herontwerp, sou ons dit beter kon doen?

Danielle Swanepoel

Berei skool jou genoeg vir die volwasse lewe voor?

Janike Smith

Hoekom het die mensdom 6500 tale ontwikkel?

Jana Burger