Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Bianca Stander

Babas kry hulle heel eerste inenting op die ouderdom van twee maande. Elke jaar kry groot aantalle mense die griepinenting. Inentings vorm al lank al deel van ons basiese gesondheidstelsel, maar baie mense is steeds onseker oor wat presies binne-in entstowwe aangaan. Nou dat ons tydens ’n pandemie lewe, het die inhoud van ons entstowwe ’n algemene gespreksonderwerp geword. Daar word veral bespiegel oor ’n nuwe tipe entstof – die mRNA-entstof.

Soos ons al geleer het in die NW-klas, bevat die meeste entstowwe ’n verswakte virus of bakterie. Meer spesifiek, bevat konvensionele entstowwe die antigeen van die patogeen waarteen dit jou moet beskerm. Die antigeen is die deel van die patogeen wat jou immuunstelsel registreer en stimuleer om ’n immuunrespons te lewer.

Die nuwe mRNA-entstof teen Covid-19, waarvan die Pfizer- en Moderna-entstof deel vorm, funksioneer egter op ’n effense ander wyse. Alhoewel die inenting redelik nuut is, is die navorsing oor mRNA-entstowwe oor die afgelope dekade al ingesamel.

Om die mRNA-entstof te verstaan, moet ons eers bietjie kyk na wat mRNA is. Boodskapper-RNS (Messanger-RNA) vorm deel van ons liggaam se proses van proteïensintese. Boodskapper-RNS gebruik die inligting wat op ons gene gestoor word om die proteïene wat ons liggaam nodig het, te vervaardig, deur ’n afdruk van ons gene te maak.

Die mRNA-entstof stel die mRNA wat die produksie van die antigeen van ’n patogeen stimuleer, in ons bloed vry. Die liggaam vervaardig dan self die antigene wat die immuunrespons teen die patogeen stimuleer. Die entstof tree dus op as ’n stel instruksies wat ons selle beveel om kopieë te maak van virusproteïene wat ons liggaam as ’n moontlike bedreiging herken. Die immuunstelsel ontwikkel dan spesifieke teenliggaampies om die liggaam teen toekomstige infeksies te beskerm. Hierdie metode is in teenstelling met konvensionele inentings wat antigene direk in die bloed vrystel, maar hulle veroorsaak beide dieselfde immuunrespons.

Met die groot hoeveelhede fopnuus in omgang, is dit belangrik om jouself bedag te hou van die volgende feite.

• Die entstof verander nie jou DNS nie. Die proteïensintese van die antigeen vind buite die selkern (waarin die gene voorkom) plaas.

• Die entstof is veilig vir alle mense ouer as 12.

• Jy kan die entstof kry, al het jy komorbiditeite.

• Die entstof gee nie vir jou Covid-19 nie.

• Die entstof besit nie ’n mikroskyfie nie.

Verandering kan vreesaanjaend wees, maar daarsonder kan ons nie ontwikkel nie. Indien jy 18 of ouer is, oorweeg dit dus asseblief sterk om jouself en ander te beskerm deur vir die jab te gaan.

Lees Verder

Nuuskierig?

Renke Lorio & Emma Olivier

Berei skool jou genoeg vir die volwasse lewe voor?

Janike Smith

Is ’n walvis ’n vis?

Hellmuth Weich

Watter invloed het die sosio-politiese klimaat op die kuns en teater?

Cara Reyneke