Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Emma Snyman

As dit nie vir tale was nie, sou ons nie ons normale daaglikse interaksies met mekaar kon hê nie. Dié kombinasie van klanke, wat almal verskillende betekenisse het, het veroorsaak dat ons ander mense kan verstaan. Tale is die fondasie van alle kommunikasie en daar is tans meer as 6500 tale wat in verskeie dele van die wêreld gepraat word. Navorsing het bewys dat die gemiddelde mens egter slegs 1,5 tale kan praat.

Mandaryns, Engels en Spaans is die mees gesproke tale ter wêreld, met 1,35 biljoen mense wat Engels kan praat. In teenstelling, is daar ’n paar tale wat slegs deur ’n handjievol mense gepraat word. ’n Voorbeeld is die taal Wymysorys, wat in ’n dorpie in Pole gepraat word en in 2017 slegs 20 huistaalsprekers gehad het. Sedert 1950 het die hoeveelheid tale in die wêreld drasties verminder. 41% van tale wat tans gepraat word, loop die gevaar om verlore te gaan. Wetenskaplikes beweer dat 90% van alle tale binne ’n eeu uitgestorwe sal wees.

Die oorsprong van tale en hoe dit oor duisende jare ontwikkel het, is ’n onderwerp waaroor wetenskaplikes steeds debatteer. Sommige mense redeneer dat alle tale van een moedertaal ontwikkel het, terwyl ander glo dat daar ’n paar stamtale was wat later in verskeie ander tale ontwikkel het. Anders as diere, het mense ’n kommunikasiestelsel ontwikkel wat maak dat ons oor enigiets onder die son kan praat.

Die eerste bewyse van geskrewe taal is sowat 4 000 jaar oud en is een van die enigste artefakte wat vir wetenskaplikes ’n leidraad bied oor die oorsprong van tale. Wetenskaplikes kan egter nog nie vasstel presies hoe die gebruik van tale in die menslike geskiedenis ontstaan het nie.

Al weet ons nie presies hoe tale ontstaan het nie, weet ons ’n bietjie meer van hoekom daar so baie tale is. Elke taal vorm deel van ’n spesifieke groep tale. Engels is byvoorbeeld deel van die Germaanse taalgroep en deel dus baie eienskappe met Duits en Frans. Die tale in ’n taalgroep deel almal ’n gemeenskaplike oorsprongstaal, waaruit verskeie tale ontwikkel het soos mense migreer het en hulself op ander plekke gevestig het. Vervoer was in daardie tye uiters stadig, so die kommunikasie tussen vestigings van mense was grootliks beperk. Hierdie afsondering het tot die aparte ontwikkeling van unieke tale gelei.

Moet egter nie dink dat die ontwikkeling van tale iets van die verlede is nie. Tale is konstant besig om aan te pas by ons veranderende wêreld. Die manier hoe jy Afrikaans praat, is byvoorbeeld waarskynlik baie anders as die manier waarop jou ouma Afrikaans praat. Selfs al verstaan julle mekaar, is daar steeds ’n paar kenmerkende verskille tussen julle taalgebruik, wat die aanduiding is van die voortdurende verandering van taal.

Die kern van die saak is dat tale regdeur die geskiedenis ontwikkel het en vandag steeds besig is om te verander sodat mense hulself beter kan uitdruk. Of dit ’n taal is wat deur miljoene mense gepraat word, of net 20, dra dit alles by tot hoe ons ons wêreld en mekaar verstaan.

Lees Verder

Berei skool jou genoeg vir die volwasse lewe voor?

Janike Smith

Wat wil jy eendag word?

Leandri Odendal

Wie is sy?

Henry van der Merwe

Watter invloed het die sosio-politiese klimaat op die kuns en teater?

Cara Reyneke