Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Renke Lorio

Henry van der Merwe (gr. 12) is die algehele wenner van die Bloemfonteinse opstelkompetisie. Sy opstel is gebaseer op die tema “vrou sonder skaduwee”.

Dis ’n warm somersmiddag. Ek sit op die balkon van my Boston-woonstel en hou die kriewelende aksie onder in die straat dop. Skielik kom alles en almal tot ’n stilstand. Ek kyk in die straat op.

Dis sy.

Sy trippel straatlangs, haar maniërismes grasieus. Haar kaal hand bedek haar mond. Soos dit haar mond verlaat, verskyn daar ’n helder somersonstraalglimlag. Die wêreld kan nie anders as om in stille bewondering te aanskou hoe sy in die pad afsweef nie.

En sy skyn.

Karre stop. Vensters gaan oop. Koppe draai. Selfs die kwaaie, astrante wind het tot ’n stotterende stilstand gekom om haar dop te hou. Die voëltjies staak hul sang en buig hul hoofde voor hul aansing, want dis sý. Dis die een waaroor hulle gesing het. Die een waaroor hulle nog altyd sing. Die heldin van die stories, vantevore egter slegs uitgebeeld deur liedere.

Die grys hemele trek oop sodat die son oor haar vel mag streel. Selfs dié is te skaam om haar in die oë te kyk. Die skare bou nou onder in die strate op. Al wat ons kan doen, is om haar in sondelose vreugde aan te staar.

Sy stap soos ’n vrou sonder skaduwee in die straat af. ’n Ligbron besit tog nie ’n skaduwee nie.

Sy stap soos ’n vrou sonder skaduwee in die straat af en alle donker verdwyn.

Ons oë bly aandagtig op haar gevestig.

Haar kop begin stadig draai. Die wêreld snak na asem uit gespanne verbasing. Haar kop kom tot ’n rus en haar oë vind hul bestemming, waar hulle hulself vestig.

Sy kyk vir my. Sý kyk vir mý. Skielik is ek langs haar. Ek stap nou aan haar sy en die wêreld kyk na ons en dit voel so goed en ek weet ek is waar ek behoort.

Ek staar tot in die dieptes van haar oseaan-oë, versigtig om nie verlore te raak nie en ek sien alles…

Ek sien wat is en wat was, maar ek sien ook wat kan wees.

***

Ons wals deur die skare, nugter van kommer, in ’n wêreld sonder skaduwees. ’n Wêreld van hoop. ’n Wêreld waar almal vry is om te wees wie en wat hulle wil wees; waar almal ’n doel dien; waar almal ’n verskil maak en waar almal in skaamlose afhanklikheid saamleef.

’n Wêreld waar almal saam skyn.

’n Wêreld waar die hemel in die aarde oorloop. Waar ons almal een is. Waar ons in strate van goud dans. Waar ons in vrede bestaan. Waar ons net kan sing en sing en sing sonder ophou en net gelukkig kan wees, net onsself kan wees. Waar almal opbou en waar afbreek nie eers ’n opsie is nie.

Ek sien riviere met waters van onbeskryflike kleure. Ek sien ’n wêreld waarin ons almal na liefde kan strewe, want wat is ons eintlik sonder liefde? Wat is die wêreld sonder hierdie warm, intern-eksterne gevoel van pure goedheid en omgee?

Wat is die wêreld sonder lig?

***

Wanneer ek my oë oopmaak en my droom (was dit ’n droom?) verby is, is sy amper weg. Sy is op die punt van die straat. Sy gee ’n laaste vinnige kyk agtertoe en verdwyn dan spoorloos om die straathoek; die lispende wind sluk saggies, skaam en sy is weg.

Daar word niks agtergelaat om te suggereer dat sy hier was nie. Nie eers ’n skaduwee nie… Ek word egter met ’n gedagte gelaat, gelaat met ’n gevoel.

Ek neem ’n besluit.

Dit is ’n warm somersmiddag. Ek staan op die balkon van my Boston-woonstel.

Ek spring… Ek styg op en op en op soos ek deur die lig sweef. Die wind speel met my hare. Skielik kan ek haar ook sien waar sy nog stap. En dit gebeur…

Ek begin straal. My strale word verbind aan hare; ons lig word een. Ek skyn en ek gaan nie ophou nie. Ons gaan nie ophou nie, want die hele wêreld skyn nou saam.

Lees Verder

Waarom is samesweringsteorieë onvermydelik in die samelewing?

Renska Krynauw

Wat is die beste velsorgroetine vir ’n tiener?

Dehan Lotz

Hoekom word ons nostalgies?

Renke Lorio

Is ’n walvis ’n vis?

Hellmuth Weich