Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Bianca Stander

Het jy al gewonder hoekom hokkie en rugby wintersporte is, terwyl tennis ’n somersport is? Hoekom word sporte ooit in somer- en wintersporte verdeel?

Dit is maklik om te verstaan waarom sommige sporte hoofsaaklik in ’n spesifieke seisoen beoefen word. Sporte soos ysskaats en yshokkie word natuurlik meestal in die winter beoefen, omdat dit op ys gespeel moet word. Sporte soos swem en branderplankry is somersporte, aangesien die water dikwels te koud is om in die winter in te swem.

Maar wat van sporte soos rugby en krieket? Hoekom is hulle aan ’n spesifieke seisoen gebonde? Sou dit nie byvoorbeeld geriefliker wees om in die somer rugby te speel en al die modder en reën van die winterseisoen vry te spring, of om die fel son te vermy en krieket liewer in die bewolkte winter te speel?

Die rede waarom baie van hierdie sporte in spesifieke seisoene beoefen word, vind sy oorsprong in Engeland se skoolsport tydens die 1800s. Openbare skole het krieket in die somer gespeel omdat die warm, droë toestande gunstiger was vir die sport. Die grond was harder in die somer, so die bal kon makliker van die grond af bons wanneer dit geboul is. Paaltjies was ook nie modderig in dié seisoen nie. Rugby is in die winter gespeel, want die nat weer het die sport beter gepas. In rugby is dit beter om op ’n sagter, nat oppervlak te speel om sodoende ernstige beserings te vermy.

Toe hierdie sporte wyer beoefen is, het die tradisie van winter- en somersporte behoue gebly. Baie van hierdie omgewingsomstandighede kan vandag egter beheer word, met gespesialiseerde sportvelde wat deur die hele jaar gekontroleer word om die gunstige toestande vir die sport te behou. Dit maak dit moontlik vir professionele sporte om deur die hele jaar gespeel te word.

Tog, ons hedendaagse skoolsport volg grootliks dieselfde patroon as wat dit 200 jaar gelede gevolg het. Dit maak egter sin, want nie elke skool het die geld om gespesialiseerde sportfasiliteite deur die hele jaar te onderhou nie. Ons bly maar almal tog nog afhanklik van Moeder Natuur.

Lees Verder

Nuuskierig?

Renke Lorio & Emma Olivier

Olimpiese Spele, 2020, Tokyo: trots of teleurgesteld?

Kyla van der Riel

Wie is sy?

Henry van der Merwe

Reduce, Reuse, Recycle – is dit regtig verbruikers se verantwoordelikheid om die wêreld te red?

Emma Craucamp