Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Cara Louw

Ons almal voel die groeiende druk van die wêreld wat om hulp skree.

Klimaatsverandering vererger vinnig en ons almal word daagliks op sosiale platforms gesmeek om die sterwende aarde te red voor dit te laat is. Griekeland se velde brand, Oos-Afrika is kurkdroog en Asië oorspoel, maar die groot vraag wat min mense waag om te vra, is: “Is dit werklik die gemiddelde verbuiker se skuld?”

Daar is al baie bewegings gestig om alledaagse mense uit te daag om sekere skadelike gewoontes te stop. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die idee dat mense plastiekstrooitjies heeltemal moet afskaf en dring op biologies-afbreekbare of herbruikbare alternatiewe aan. Ongelukkig het National Geographic se navorsing bewys dat plastiekstrooitjies net 0,025% van die besoedeling in die see veroorsaak.

Steeds saai maatskappye en groot organisasies advertensies (wat net sowel propaganda genoem kan word) uit wat alledaagse verbruikers skuldig laat voel oor die impak wat hulle op die planeet het.

Advertensies bevat leuses en statistiek wat verbruikers mislei.

’n Studie bewys dat 71% van die wêreld se besoedeling vanaf 1988 blameer kan word op ’n spesifieke 100 korporasies. 25 van daardie besighede het bygedra tot ’n skokkende 50% van die aarde se besoedeling! Saudi Aramco, ’n olie besigheid in Saoedi-Arabië, is tans die gootste bydraer tot besoedeling in die wêreld.

Natuurlik wil besighede so onskuldig moontlik lyk sodat hulle voort kan bestaan. Die skuldgevoelens van mense is natuurlik vreeslik gerieflik vir hierdie skadelike besighede. Mense se gevoelens word maklik deur hartseer en skokkende video’s en advertensies gemanipuleer. Dit maak dit dus baie maklik om die skuld vir die landsburgers, eerder as die regering en mense met mag, te gee.

Ons almal is al van kleintyd af gewys hoe om elektrisiteit, water, en kos te bespaar. Hierdie is glad nie ’n slegte ding nie en kan steeds ’n verandering maak, maar dit dra by tot ons perspektief oor wie werklik verantwoordelik is vir verandering.

As ’n mens heeltemal realisties en objektief na die situasie kyk, is dit duidelik dat ons as enkele verbruikers ongelukkig nie veel van ’n verandering kan maak nie. Dit is tragies dat die mense wat werklik omgee, net moet terugsit en kyk hoe die wêreld sterf.

Die beste ding wat ’n verbruiker kan doen om moontlik verandering te kan bevorder, is om sekere besighede nie te ondersteun nie. Nie-hernubare bronne van energie produseer 68% van wêreldwye besoedeling. Deur skoner vorme te ondersteun, kan hierdie maatskappye geld laat verloor en hopelik laat ophou voortbestaan of ten minste minder besoedeling veroorsaak.

Ondersteun eerder besighede wat werklik op groot skaal ’n verskil probeer maak. Jy kan ook petisies teken, veral petisies wat mense met groot hoeveelhede geld, soos Jeff Bezos en Bill Gates, in hulle missies wil betrek. Hierdie is die tipe mense wat werklik ’n suksesvolle poging kan aanwend om ’n impak te kan maak.

Groot fabrieke en besighede met min simpatie vir die huilende wêreld moet verander - voor dit te laat is.

Lees Verder

Hoe begin jy skryf?

Leanri Pretorius

Hoekom het ons somer- en wintersporte?

Erica Chen

Hoe werk dit aan die ander kant van die glas?

Emma Olivier

Is ’n walvis ’n vis?

Hellmuth Weich