Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Bianca Stander

Met groot opgewondenheid en afwagting het Suid-Afrikaners, soos die res van die wêreld, uitgesien na die 2020 Olimpiese Spele. Niemand kon egter voorsien dat dié Spele, wat in Tokyo, Japan sou plaasvind, soos geen vorige Olimpiese Spele sou wees nie.

Dit het ’n wedywering tussen die wetenskap en virus geword en is die eerste Olimpiese Spele wat tydens ’n wêreldwye pandemie plaasgevind het. Die 2020 Spele het ’n volle jaar later as geskeduleer, op 23 Julie 2021, afgeskop. Suid-Afrika het egter steeds hoë aspirasies vir sy Olimpiese span gekoester, ongeag omstandighede. Hoe dan anders?

Suid-Afrika is ’n trotse en kompeterende nasie en geen virus kan dit verander nie. Suid-Afrika wou graag voortbou op die sukses wat tydens die 2016 Olimpiese Spele in Rio behaal is. 10 Medaljes - 2 goud, 6 silwer en 2 brons - is tydens dié Spele verower.

Die 2021 Olimpiese Span, wat uit 185 atlete bestaan het, is die grootste span wat Suid-Afrika nog ooit na ’n Olimpiese Spele gestuur het. Met 35% meer atlete as in 2016, is daar voorspel dat Suid-Afrika 3 of 4 medaljes meer kon wen as tydens die Rio Spele. Die Olimpiese Span van 2021 het ook aan 17 uit die 33 sportsoorte by die Spele deelgeneem, wat die meeste is waaraan ons nog ooit in die Spele deelgeneem het.

Daar was egter gemengde resultate van glorie en pyn vir die Suid-Afrikaanse span. Caster Semenya en Luvo Manyonga, wat in 2016 medaljewenners was, kon die 2021 span nie haal nie, onderskeidelik weens skorsing en die onvermoë om te kwalifiseer.

Twee gunstelingsportsterre en staatmakers wat vir die span gekwalifiseer het, maar die laaste paar jaar deur beserings geteister is, is Chad le Clos en Wayde van Niekerk. Die swemmer, Chad le Clos, wat goud en silwer onderskeidelik by die 2012 en 2016 Olimpiese Speles verwerf het en die wêreldrekordhouer en 400m Olimpiese kampioen, Wayde van Niekerk, se prestasies in Tokyo was teleurstellend. Beide van hulle kon nie daarin slaag om ’n medalje te wen nie.

Suid-Afrika se Blitzbokke, wat bronsmedalje-wenners in Rio was en as een van die beste 7's rugbyspanne in die wêreld geklassifiseer word, was ook verwag om ’n medalje te wen. Voorbereiding, oefening en die geleentheid om te akklimatiseer was egter beperk, nadat die hele span in kwarantyn geplaas is omdat ’n passasier op hulle vlug positief getoets het vir Covid-19. Hulle hoop op ’n medalje het aan skerwe gelê toe hulle in die kwarteindronde deur Argentinië geklop is.

’n Verdere verlies vir Suid-Afrika was die onttrekking van Jordy Smith, een van die beste branderplankryers in die wêreld, weens ’n besering.

Die Suid-Afrikaanse swemmer, Tatjana Schoenmaker en die branderplankryer, Bianca Buitendag, het egter vir verrassings gesorg toe hulle elkeen ’n silwermedalje gewen het. Schoenmaker het ook ’n goue medalje verower toe sy ’n nuwe wêreldrekord in die 200m-borsslag gestel het.

Die 2020 Olimpiese Spele het op 8 Augustus 2021 tot ’n einde gekom, met die Suid-Afrikaanse span wat met slegs drie medaljes kon terugkeer – die swakste prestasie van ons span sedert die 2008 Spele in Beijing. Hierdie prestasies was egter genoeg om Suid-Afrika 52ste op die algehele medaljeranglys te plaas.

Lees Verder

Wat is die beste velsorgroetine vir ’n tiener?

Dehan Lotz

Hoe werk dit aan die ander kant van die glas?

Emma Olivier

Wat is die waarheid agter die mRNA-entstof?

Leah Coetzee

Indien die mensdom die geleentheid gehad het om die finansiële stelsel te herontwerp, sou ons dit beter kon doen?

Danielle Swanepoel