Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Bianca Stander

Die dag toe die graadagts van 2017, of liewer die grotters, as nat agter die ore laerskoolkinders by DF aangekom het, het die matrieks verskriklik groot en volwasse gelyk. Dit was moeilik om toe te dink dat ons oor vier jaar in hulle skoene sou staan, op die drumpel van volwassenheid. Tog, hier sit ek nou, minder as twee maande voor mý uitstapdag, byna ’n volwassene en ’n trotse kenner van die skoollied (en ’n minder trotse kenner van die woorde van Ek wens ek was cool soos Koos Kombuis).

Toe ek aan ’n vraag moes dink om te beantwoord vir hierdie uitgawe se artikel (hopelik het jy al die tema agtergekom ;)) het die naderende einde van my en my mede-matrieks se hoërskoolloopbane en al die nostalgie wat daarmee gepaard gaan, my na die volgende vraag toe gelei: hoekom word mense nostalgies? Wat is nostalgie eens?

Persoonlike nostalgie is daardie gevoel van verlange na iets in jou verlede. Dit kan verlange wees vir iets konkreets, soos jou ou teddie, of vir iets meer abstrak, soos die onskuld en sorgloosheid van die jeug (ek klink nou omtrent oud). Dit is meestal ’n bittersoet gevoel. Ons voel dankbaar en tevrede om te dink aan die goeie ervarings wat ons al gehad het, maar is ook hartseer om te besef dat daardie tye verby is en dat ons nooit weer soontoe kan teruggaan nie.

Wat is egter die rede waarom ’n ou foto of liedjie hierdie golf van nostalgie oor ’n mens kan laat spoel? Die rede is grootliks gegrond op hoe die mens aangepas is om veranderinge te hanteer.

Ons is konstant besig om te verander as mense, soos ons nuwe dinge ervaar of tot nuwe insigte kom. Jy is nie presies dieselfde mens as wat jy vyf jaar gelede was nie, al bly daar dele van jouself wat nie verander het nie. Tog, bly jou ervaringe van toe jy vyf of vyftig jaar oud is, nog jóú ervaringe, al het jou oogpunt waaruit jy na die wêreld kyk, intussen verander. Nostalgie is ’n manier om kontinuïteit te skep tussen wie ons vandag is en wie ons in die verlede was, wat ons help om ons identiteit te vorm. Dit is essensieel ’n manier vir ons om innerlike orde te skep te midde van die chaos van die lewe.

Ten tye van groot veranderinge is ons meer geneig om nostalgies te word. Verandering kan ons maak voel asof ons nie in beheer van ons lewens is nie. Nostalgie bied ons ’n gevoel van standvastigheid as ons terugdink aan die tye toe ons deur soortgelyke gevalle gekom het, of net bloot die tye wanneer ons veilig, geliefd en gelukkig gevoel het. Wetenskaplikes het bevind dat jong volwassenes veral geneig is om nostalgies te voel omdat dit ’n periode van so baie veranderinge in ons lewens is.

Matrieks, dis waar dat ons nooit weer ons harte oorverdowend sal kan voel klop soos die dirigente aftel vir die kreet nie, of daardie ekstase sal ervaar wanneer DF aangekondig word as die wenners van die sangbeker nie. Dis hartseer dat daardie tye verby is, maar ek is dankbaar dat ek hulle wel gehad het. Dit was ’n eer om hierdie ervarings met julle te deel en ek hoop dat julle elkeen op ’n manier sal kan terugdink aan die afgelope vyf jaar en ’n bietjie kan glimlag vir dit wat ons by DF gehad het. Ek wens julle alle sterkte vir die toekoms toe.

Lees Verder

Hoekom het die mensdom 6500 tale ontwikkel?

Jana Burger

Sal Mars ooit ons tweede tuiste kan wees?

Erica Chen

Is dit die moeite werd om dagboek te hou? My ervaring as eienaar van die cliché tiener-besitting

Emma Olivier

Wat wil jy eendag word?

Leandri Odendal