Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Emma Olivier

Ek het die oggend van 1 Januarie 2020 besluit om ’n dagboek te hou (regtig te hou, nie net elke kort-kort in te skryf nie, maar elke dag te dokumenteer – soos in die flieks).

Dagboekhou gaan deesdae redelik verlore. Ons is elke dag so besig en ons kry min kans om te stop en vir ’n oomblik rond te kyk – wat nog van dit neerskryf? Ek sou egter aan enige iemand wat pen en papier besit, aanbeveel om die tyd te maak vir dagboekhou.

Dit is ’n dissipline wat ’n mens deurlopend moet toepas en is in die begin nogal moeilik om konstant te hou, maar my ervaring is dat die voordele wat dit bied, die moeite werd is.

Wat is die voordele?

Ek voel dat ek dinge beter kan onthou danksy my dagboek. Die aksie van pen op papier plaas en die dag opsom, kerf die dag behoorlik by jou geheue in. Wanneer ek vir eksamens leer, maak ek eerder op handgeskrewe notas staat, want die neerskryf maak die inhoud in die geheue vas. Dieselfde geld vir my dagboek. ’n Mens onthou dinge beter as dit in jou eie handskrif is.

Ek het ook agtergekom dat ek my drome meer gereeld en helderder onthou as ek dit neerskryf. Ek het ’n bietjie met droominterpretasie begin rondspeel en besef dat ek my drome verbasend maklik kan ontsyfer as ek die gebeure en gemoed van die spesifieke tydperk kreatief genoeg toepas.

Daar is egter sommige drome waarvoor ’n mens maar net skouers kan optrek. Om terug te blaai na hierdie oomblikke van die onderbewussyn, verskaf nou wel nie ooglopende inligting nie, maar definitief goeie vermaak. Ek sal my gunsteling-vreemde droom met jou deel. (Voel jy net so ’n klein bietjie spesiaal?)

“Ek het gedroom daar was ’n haas wat ander diere na sy huis toe genooi het om by hom te kom eet, maar hy het ’n ketting getrek sodat hulle deur ’n valdeurtjie val en hy het hulle gaargemaak en vir sy volgende gaste bedien.”

Voel vry om dit te interpreteer as jy lus voel.

Dagboekhou help om gonsende denke uiteen te sit en besluite te neem – ten minste in my ervaring. Dit help partymaal om jou gedagtes uit te skryf. Sodra jy indrukwekkende idees in woorde moet omsit, raak hierdie idees baie meer tasbaar.

Dit is ook nuttig om deur jou dagboeke te blaai en te sien wat vir die jy-van-die-verlede gepla het en te sien hoe daardie probleme verdwyn. Ek lees gereeld ou inskrywings waarin ek hoogs bekommerd klink oor die dinge wat my pla en dan hoor ek nooit weer van daardie laste nie.

Dis lekker.

Bonus: ’n dagboek laat ’n mens ook partymaal soos ’n fiksiekarakter voel.

My 2020 is omtrent drie volumes lank (ek het ongelukkig ’n hele stuk November uitgelos, weens onbekende redes). Ek het nou die dag Volume Een van 2020 weer gelees en opgelet hoe drasties die verskil tussen 2020 Volume Een en 2020 Volume Drie is. Ek het raakgesien dat ek meestal oor myself in Volume Een geskryf het. Ek het nie eintlik op gesprekke en ander mense uitgebrei nie. Later het ek begin om meer oor gesprekke, liggaamstaal en verhoudings van mense te skryf. Ek is nogals bly dat ek dit begin doen het, want dit help aansienlik baie om ander mense se lewensuitkyke, onsekerhede en redes vir hul aksies te verstaan.

Dit klink dalk effens grillerig, maar ek verseker jou dit is nie.

Om tyd opsy te sit om oor die redes vir ander se gedrag te reflekteer, het, dink ek, my meer geduldig gemaak.

Hoe kry ’n mens dit reg om ’n dagboek volhoubaar te skryf?

Ek het dagboekhou vroeër ’n dissipline genoem. Dit is moeilik om elke liewe dag by jou inskrywing uit te kom. Ek moet nou nog elke nou en dan die dag vinnig in bullet-styl opsom om ’n ander keer oor te skryf (nie ’n goeie gewoonte om te ontwikkel nie, maar beter as om bloot nie te skryf nie).

’n Mens raak egter gewoond aan die dissipline as ’n mens elke dag ’n tydjie vir skryf opsysit. Ek skryf in die aand voor ek gaan slaap, maar jy kan deur die dag inskrywings maak, alhoewel ek nie weet hoe ’n mens daarvoor sou tydkry nie.

Ek het ook gesê ek beveel dit aan vir enige iemand met pen en papier – pen en papier! As jy die papier wil spaar, kan jy, maar as jy iets soos dagboekhou wil aanpak, kan jy maar net sowel jouself tot die heimwee van ink op papier toewy.

Daar is ’n beter rede: jy onthou nie dinge wat jy tik so goed nie. Tik is meestal spiergeheue omdat jou vingers reeds weet waar die knoppies op die rekenaar is.

Nog ’n rede is dat ek maar net dink ’n mens behoort nie met skerms besig te wees terwyl ’n mens iets doen soos dagboekskryf nie. Dit is veronderstel om ’n vreedsame, ontsnap-en-reflekteer-oomblikkie in ’n mens se skermryke dag te wees.

’n Derde rede is dat digitale dinge ongelukkig kan oppak of verlore gaan. Jou rekenaar kan breek of ’n virus opdoen. Iemand kan jou foon steel.

Ek twyfel egter of iemand jou van jou notaboekie sal wil beroof.

My dagboekskryfstyl het ontwikkel soos wat ek geskryf het. Ek het eers dit soos ’n kreatiewe opstel probeer doen. Dit het styf en gedwonge geklink. Na ’n rukkie het ek geleer dat jy nie jou dagboek hoef te skryf asof dit ’n opstel is nie. Jy kan net skryf wat jy dink, dan raak dit vanself interessant. Dit hoef nie indrukwekkend te wees nie. Soms is dit toevallig baie indrukwekkend, maar daar is geen druk nie. Net jy lees dit (as jy dit vir ander mense wil wys gaan ek jou nie keer nie, maar ek beveel dit nie aan nie, aangesien jy dan natuurlik met inhibisies opgeskeep sal sit).

Jy hoef ook nie jou dagboek Liewe Dagboek te noem nie. Jy kan as jy wil, maar jy hoef nie. (Dit blyk die algemene toon van die artikel te wees. Moenie jouself sensor nie.)

Volg hierdie wenke en jy sal ook jou innerlike Wimpy Kid kan laat skyn.

Lees Verder

Wat wil jy eendag word?

Leandri Odendal

Is ’n walvis ’n vis?

Hellmuth Weich

Reduce, Reuse, Recycle – is dit regtig verbruikers se verantwoordelikheid om die wêreld te red?

Emma Craucamp

Waarom is samesweringsteorieë onvermydelik in die samelewing?

Renska Krynauw