Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Emma Snyman

Die rooi kolletjie in ons aandlug veroorsaak die afgelope ruk baie bespiegeling. Menigte mense, asook miljardêrs, soos Elon Musk, vra die volgende vraag: sal mense ooit Mars toe kan gaan of selfs dit ons tweede tuiste kan noem?

Die reis Mars toe is gevaarlik en bied talle struikelblokke. Aangesien Mars so ver van die aarde af is (gemiddeld 225 miljoen km, maar wisselend vanweë die planete se elliptiese wentelbane) sal dit ongeveer ses maande neem om daarheen te reis. Ruimtevaarders loop die risiko om aan baie bestraling blootgestel te word tydens dié reis, asook op die oppervlakte van Mars. Die aarde se magnetiese veld beskerm ons normaalweg teen die bestraling wat die son uitstraal, maar dit is natuurlik nie teenwoordig in die reis na Mars nie. Mars se magnetiese veld is ook baie swakker as die aarde s’n, wat beteken dat daar veel meer bestraling deur Mars se atmosfeer dring.

Die lang duur van die reis Mars toe beteken dat ruimtevaarders grootliks selfonderhoudend op Mars sal moet wees. Die omstandighede op Mars is egter grootliks ongunstig vir lewe. Mars het geen water op sy oppervlak nie. Daar kon wel miljoene jare terug water gewees het, maar dit het al lank terug opgedroog.

Suurstof is die volgende probleem. Mars se atmosfeer bestaan uit 96% koolstofdioksied en slegs 0.13% suurstof. Die aarde se atmosfeer bestaan in teenstelling uit 21% suurstof. Dit sou dus onmoontlik vir mense wees om op Mars natuurlik asem te haal.

Ruimtevaarders sal ook ’n plan moet beraam om hulle eie voedsel op Mars te vervaardig. Die grond op Mars bevat die voedingstowwe wat plante benodig om te groei. Die temperatuurwisseling en algehele koue temperatuur op Mars (gemiddeld ­-63 ºC) vanweë Mars se dun atmosfeer, sou egter onmoontlik wees vir plante om in te lewe. Plante sal dus in gekontroleerde kweekhuise gekweek moet word, waarin die temperatuur konstant gehou en die swak sonlig van Mars versterk word deur LUD’s te gebruik. Navorsing toon dat plante soos spinasie, knoffel, blaarslaai en uie die waarskynlikste is om in kweekhuise op Mars te kan groei.

Dit reis Mars toe is een van die grootste uitdagings wat die wetenskap en menslike vermoëns al teëgekom het. Die kans is egter groot dat die mens se aard van meedoënlose nuuskierigheid ons binnekort letterlik nuwe wêrelde sal laat verken.

Lees Verder

Hoekom word ons nostalgies?

Renke Lorio

Nuuskierig?

Renke Lorio & Emma Olivier

Hoe begin jy skryf?

Leanri Pretorius

Waarom is samesweringsteorieë onvermydelik in die samelewing?

Renska Krynauw