Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Aimee Hough

Waar begin ’n mens ’n stelsel wat deur antieke Grieke geskep is, hipoteties herontwerp?

Ons bepaal die basiese minimum wat nodig is vir ’n finansiële stelsel om te funksioneer: iets van waarde waarvan die waarde nie baie verander nie. Tans is dit goud en indien dit weggeneem sou word, sou die volgende beste ding net gekies word.

Die antieke Grieke het reeds bewys dat dit onprakties is om direk met goud handel te dryf. Ons benodig dus steeds iets wat die waarde van hierdie goud voorstel.

Die probleem met die geld wat ons tans het, is dat dit is nie direk aan tasbare waarde gekoppel is nie.

Daar is so baie monetêre lekkasies in die wêreld se finansiële sisteem as gevolg van finansieringskostes. Finansiering is net ’n voorstelling van dit wat nie regtig tasbaar is nie en word net gebruik om nog finansiering moontlik te maak. Dit vergroot die gaping tussen ryk en arm – dié wat reeds het, kry meer van dié wat nie het nie.

Daar is dus twee “borrels” in ons finansiële sisteem: een is geld gekoppel aan tasbare waarde. Die ander bevat die “onwerklike” geld soos finansieringskoste.

Omdat persoon A iets nie kan bekostig nie, neem hy ’n lening uit by persoon B (soos ’n bank) wat hy net later moet terugbetaal. Hierdie terugbetaling bestaan uit die oorspronklike bedrag waaraan die waarde van die tasbare produk wat gekoop is, gekoppel is en ekstra kostes: die finansieringskoste wat die onwerklike, ontasbare voorstel. Só word daar meer en meer geld in die ontasbare “borrel” gestort.

Is hierdie dalk die oplossing? Om van hierdie ontasbare “borrel” ontslae te raak? Alle geld moet dus in dinge met tasbare waarde gestort word: of goedere wat iemand koop, of ’n diens wat waarde toevoeg en dus ook deur iemand gekoop word. Indien persoon A nóú nie die produk kan bekostig nie, moet hy spaar. Hoe? Nie in ’n spaarrekening in die bank met “ontasbare” rente nie, maar hy moet belê in ’n besigheid wat waarde toevoeg (produkte of dienste verkoop) en as aandeelhouer in die wins deel. Só word al die beskikbare geld van die wêreld in die tasbare “borrel” wat waarde tot die samelewing toevoeg, gestort.

Na verskeie gesprekke met ekonomie-leerders van verskillende grade, is hierdie voorstelling redelik platgetrap.

Die hoofargument is: hoe gaan ’n mens sonder ’n groot lening genoeg kapitaal bymekaarskraap om ’n besigheid te begin sodat die ekonomie kan aanhou groei?

Modernising Money deur Andrew Jackson en Ben Dyson, lede van die voorspraakgroep Positive Money, ondersteun beide kante van die gesprek. Dit sal voordelig wees om wel geld met finansieringskoste aan nuwe besighede te leen, maar moet herdink word vir individue wat nie iets gaan skep wat waarde tot die sisteem toevoeg nie. Om, byvoorbeeld, ’n lening op ’n motor te kry en dit met rente teen ’n baie hoër bedrag terug te betaal, sonder dat daardie individu se nuwe motor geld terug in die sisteem sit, stort net al hoe meer geld in daardie ontasbare “borrel” in.

Hierdie is bloot ’n spekulerende artikel oor ’n onderwerp waarvan selfs ’n tiende nie in vyfhonderd woorde vasgevang kan word nie. Die antwoord op die vraag dryf dus nog in ’n grys area. Dit is nou jóú beurt om verder te dink en ’n insiggewende gesprek met iemand te gaan aanknoop.

Lees Verder

Nuuskierig?

Renke Lorio & Emma Olivier

Wat is die beste velsorgroetine vir ’n tiener?

Dehan Lotz

Is dit die moeite werd om dagboek te hou? My ervaring as eienaar van die cliché tiener-besitting

Emma Olivier

Olimpiese Spele, 2020, Tokyo: trots of teleurgesteld?

Kyla van der Riel