Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Emma Olivier

Inligting en kennis is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van die mensdom. Dit is grootliks hoekom ons bo die res van die diereryk uitgestyg het. Dit het ’n behoefte geword om inligting, bo en behalwe die inligting vir oorlewing, te bekom en dit te benut om ons lewens te vergemaklik en ook interessanter te maak.

Navorsers glo egter daar kan ook sielkundige aspekte hieraan verbonde wees.

Wanneer die menslike verstand bedreig voel, kan die identifisering van die oorsaak ’n manier wees om die verwante stres te hanteer.

Oor die algemeen sal die effek van samesweringsteorieë dus in tye van krisis en kommer styg.

Krisisse kan mense laat voel dat hulle beheer verloor. Hulle ontwikkel dan ’n behoefte om dít wat rondom hulle gebeur, te verstaan, omdat die gedagte aan die onbekende tot angs kan lei. Met al die korrupsie, geheimhouding en leuens in die wêreld het mense begin wantrouig word. Ons wil nie geflous word nie en samesweringsteorieë wys dat mense nie gemanipuleer wil word nie. Ons probeer die onverstaanbare deur middel van samesweringsteorieë te verklaar om onsself sodoende weer gerus te stel en ’n gevoel van beheer te verkry.

Navorsers glo dat mense soms aangetrokke tot samesweringsteorieë voel om sekere sielkundige behoeftes aan te vul. Dit sluit in om enige van die volgende drie sielkundige motiewe te probeer bevredig:

Epistemiese motiewe verwys na die behoefte aan sekerheid en om kennis en inligting te hê. Wanneer iets buitengewoons gebeur, wil mense outomaties meer weet en ’n verduideliking kry; hulle wil die waarheid hê. Sielkundige bewyse toon dus aan dat mense dikwels op samesweringsteorieë staat maak as hulle onseker oor ’n situasie voel.

Tweedens verwys eksistensiële motiewe na die behoefte om mag oor iets te hê en veilig in die wêreld te voel. As iets vreemds gebeur, wil mense nie die gevoel van buite-beheer-wees en magteloosheid ervaar nie. Samesweringsteorieë laat mense voel dat hulle inligting het wat ten minste kan verduidelik hoekom hulle nie beheer kan hê nie.

Die sosiale motief verwys na die begeerte om goed oor jouself te voel. Samesweringsteorieë kán soms ly tot ’n hoër selfbeeld omdat dit ’n gevoel van belangrikheid gee as iemand toegang tot inligting het wat die mense rondom hulle nie het nie.

Die antwoorde wat samesweringsteorieë bied, lewer egter net tydelike bevrediging van die bogenoemde menslike behoeftes. Dit kan selfs jou emosionele welstand benadeel. Die voorgestelde antwoorde kan angs opwek en so ontstaan ’n verdere behoefte om beter ingelig te word. ’n Daaropvolgende aanhegting aan samesweringsteorieë skep ’n siklus van immergroeiende angs.

Dit is belangrik om te besef dat samesweringsteorieë nie negatief hoef te wees nie. Om nuuskierig te wees oor die Nessie-wese in Loch Ness in Skotland of die Bigfoot in die Himalayas of selfs die vreemde gebeurtenisse in die Bermuda Driehoek, kan ’n positiewe effek hê. Dit kan opwinding in jou aanwakker en dit kan genotvol wees om oor dié verskillende samesweringsteorieë navorsing te doen.

Die internet is gevul met verskeie samesweringsteorieë wat poog om eienaardige wesens of gebeurtenisse, waarvoor ons nog geen bevestigde bewyse het nie, te verklaar. Al die inligting kan ons verwar oor wat feite of menings is. Dit is dus belangrik om krities na samesweringsteorieë en hul bronne te kyk.

Lees Verder

Is koffie goed vir jou?

Nienke de Vaal

Prysing: aanmoediging of kruk?

Juliette Behr

Sal Mars ooit ons tweede tuiste kan wees?

Erica Chen

Hoe werk dit aan die ander kant van die glas?

Emma Olivier