Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Shianne Brand

Koffie is een van die gewildste drankies. Adolessente blyk die vinnig-groeiendste bevolkingsgroep van koffiedrinkers te wees. Is daardie koppie koffie in jou hand egter jou vriend of vyand?

Vele studies is al gedoen oor die gesondheidseffekte van koffie (meestal op volwassenes). Kom ons kyk na ’n paar bevindinge.

Die gemiddelde koppie koffie bevat om en by 100 mg kaffeïen.

Kaffeïen is ’n breinstimulant wat konsentrasie bevorder, die gevoel van moegheid verminder en jou gemoed ’n hupstoot kan gee. Kaffeïen het ’n diuretiese effek (dit wil sê dit laat jou meer urineer). Dit stimuleer ook jou dermkanaal en maagsuurproduksie. Polifenole is anti-oksidante wat ook in gebroude koffie voorkom en moontlik gesondheidsvoordele inhou.

’n Oormaat kaffeïen kan hartkloppings, slapeloosheid en verhoogde angs veroorsaak. Koffie bevat soms kafestol, wat cholesterolvlakke kan verhoog.

Alhoewel kaffeïen tydelik jou hartspoed en bloeddruk kan verhoog, het studies bevind dat koffie in die lang termyn die kanse vir hartversaking, asook tipe 2-diabetes, kan verminder.

In 2019 het ’n studie bevind dat die risiko vir sterfte weens enige rede effens laer was in koffiedrinkers as in diegene wat geen koffie gedrink het nie. Hierdie assosiasie is egter nie duidelik verklaarbaar nie en daar kon ander ongekende faktore wees wat ’n rol gespeel het.

Daarteenoor het ’n onlangse Britse studie bevind dat gereelde drink van koffie - dit wil sê 6 of meer koppies per dag - met kleiner breinvolume en ’n verhoogde risiko om demensie te ontwikkel, geassosieer is. ’n Mens hoor ook van enkele gevalle waar jongmense ernstige nagevolge ervaar het van ’n oordosis kaffeien - dikwels deur ’n kombinasie van koffie en energiedrankies. Sommige kenners beveel aan dat tieners hul koffie-inname tot 1 koppie per dag beperk.

Dit is dus moeilik om konkrete aanbevelings oor die ideale koffieverbruik te maak. Die beste benadering is waarskynlik om matigheid voor oë te hou wanneer jy jou wakker-in-’n-koppie geniet.

Lees Verder

Wat wil jy eendag word?

Leandri Odendal

Watter invloed het die sosio-politiese klimaat op die kuns en teater?

Cara Reyneke

Nuuskierig?

Renke Lorio & Emma Olivier

Wat is die waarheid agter die mRNA-entstof?

Leah Coetzee