Die Herout
Jaargang 42
Augustus 2021
Foto: Shianne Brand

Kom ons wees gou eerlik – hoeveel episodes van Grey’s Anatomy kan jy in een dag klaar kyk? Hoeveel aande het jy al gedeurnag omdat die eerste seisoen van ’n reeks weereens op ’n cliffhanger eindig?

Televisieprogramme weet presies hoe om ons nagte lank wakker te hou en hoe om die karakters se storielyne in ons koppe in te wurm. Dit is vir ons ’n manier om die angstige realiteit te ontsnap en onsself absoluut in die karakters se avonture in te leef. Soveel so dat ons soms Outerbanks vir die hoeveelste keer kyk, in plaas daarvan om te leer vir die volgende dag se wiskundetoets...

Maar wat maak ’n TV-program al daardie snot, trane, slapelose nagte en ’n nagmerrie-van-’n-wiskunde-toets werd?

Ons kan almal saamstem dat ons verskil as dit kom by wat die beste TV-reeks van alle tye is. Sommige mense geniet ’n goeie riller, soos The Walking Dead, terwyl ander ’n ligte komedie soos New Girl verkies. Ek het navorsing gedoen oor wat verskillende mense dink ’n TV-reeks so gewild maak en het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:

Die storielyn maak of breek die TV-reeks. Dit moet boeiend wees en deurlopend die kyker se aandag behou met ’n onvoorspelbare plot twist (draaipunt) wat ons verstom. Ons moet gedurig op ons hoede wees en wonder wat volgende gaan gebeur. Dit moet egter nie te lank en uitgerek wees nie, want soos alles in die lewe moet die karakters se storie ook iewers tot ’n einde kom. Dit is natuurlik debatteerbaar, maar volgens die artikel Top 10 TV shows with the best storylines deur jojijoseph1989, verower Prison Break die goue medalje in hierdie afdeling.

Die karakters moet meesleurend wees en hulle moet die kyker fassineer. Goeie karakterontwikkeling is van belang sodat ons saam met die karakters kan leer en groei. Natuurlik is die kersie op die koek die akteurs en aktrises. Dit is tog lekker om ’n reeks te kyk waarin bekende akteurs jou gunstelingkarakter vertolk en boonop nie te hard op die oog is nie!

’n Goeie liefdesverhaal blyk ook of dit nooit teleurstel nie. Ons hou van ’n liefdesavontuur en wil saam met die twee salig onbewuste lovebirds stap om te sien hoe hulle uiteindelik hulle pad na mekaar toe vind. Volgens PureWow Entertainment deur Chelsea Candelario, is een van die mees ikoniese paartjies ons geliefde Lily en Marshall van How I met your mother.

’n Mens beny hierdie perfekte liefdesverhaal wat ons op die skerm aanskou. Dit is egter belangrik om te onthou dat dit vir ons ’n onrealistiese verwagting skep van hoe die wêreld regtig werk. Ja dames, jou ridder geklee in blink pantser gaan jou ongelukkig nie van jou bose stiefma kom red nie, maar hou aan droom!

Na ’n uitputtende, stresvolle dag is almal op soek na verligting – iets om jou gemoed ’n hupstoot te gee. Komedie is die nommer een genre op die lys van wat TV-reekse gewild maak. Ons het almal verskillende sinne vir humor, maar iewers is daar ’n TV-reeks wat jou sal laat lag en bietjie vergeet van jou stresvolle lewe. Volgens ’n Marie Claire-artikel deur Kayleigh Roberts, is die gewilde reekse The Office, Friends en Modern family almal in die top 10 van die beste komiese TV-reekse van alle tye.

Nooi dus gerus ’n paar van jou vriende, binge watch saam ’n klomp TV-reekse en besluit wat julle as die top TV-reeks van 2021 ag! (Doen dit egter dalk liewer nie voor ’n wiskundetoets nie...)

Lees Verder

Wie is sy?

Henry van der Merwe

Prysing: aanmoediging of kruk?

Juliette Behr

Hoekom word ons nostalgies?

Renke Lorio

Is ’n walvis ’n vis?

Hellmuth Weich